Tuesday, 22 October 2019

kwiksilwer asems

            vir Kaolin

waaragtig die kreun in
ons ribbes hou nie op nie
die selle weier om te ontrafel
ons speel die vrees weg
ons klou verbete aan ons kele in die duister tye
bang en bly dat ons siele sal ontsnap na
beter sinsasies
o hoe ons hou daarvan om
te speel met die klanke gedoop in
primordiale herinneringe

diep in ons oorkanale bloei daar vlerke
wat nie kan wag om te vlieg
die rugstring loop hier reg uit ons kele uit
en spat in kwiksilwer asems deur die silwer pype
die vlees volg die klank
ongeag van skaamte
sal die vlees luister en onverskrokke
ons kwesbare siele bly omhul

ons polsslag verteer elke dag tot ‘n vlugtige gedig
ons ledemate bly hardloop agterna
die hande wil gryp gryp na vashouplek

die tornados in ons heilspellende inkantasies
sal bly kolk solank die kwiksilwer asems
in aanraking bly met die oer-grond

al wat ons wil hê is dat ons klanke
resonerende spore sal agterlaat
versadiging dartel soos warm silwer
deur ons klei-lywe

mag die kwiksilwer asems
ons kele
smelt en
giet tot 
in
vermurwende vrede

Monday, 21 October 2019

as dit maar

die hart bly om teen die spoed van lig te klop
as dit maar net die lig kon sien

Sunday, 13 October 2019

pondering on the 16th letter of the alphabet

pondering the poetic promises
that the prophets profess
but such a plethora of
pestilence plague the populace
the peripatetic people try hard
to bypass the problems
with intense use of their
peregrinatory impulse
the possibilities are not so endless
praise the limits of production
the panoply of poems
give my hair spontaneous curls
i can not but pause passionately in 
the face of all the potential
my pulmonary predicament 
has pushed part of my life
in a pained parenthesis
according to the kinesiologist
eating pineapple would assist
but the prospect kept looking grim
after madame pulmonolgist's super proficient
and seemingly pragmatic path to deal with
and accept the prognosis
i have been put on pills
powerful and pathetic at the same time
i am rather pleased at my progress
let me get back to the preamble
of the poem and focus on 
the poetic promises
let these pull me out of any pretense
and puppeteering
let no ploy plaster my position
as pianist and poet
with any plastic personage
pluck the peremptoriness from
the panacea
heal all mouths, mine especially,
from pitiable platitudes

Friday, 11 October 2019

die stompste wapen

met die afscroll raak die skerm 'n magneet 
haar hand, frons en skouers
'n stywe lyn ineen gevleg

sy verloor haar speelse 
bewegings
en buigbare denke 
haar mensheid verkrummel

die serebrospinale vloeistof
stol in hulle tonnels
en haar veerkragtige huppel    knak

die wit in haar oë vertroebel
die irisse reflekteer
die dodelike skerm wesenloos terug

haar sintuie word geamputeer

deur die stompste wapen
van alle tye - 

die selfoonskerm


Wednesday, 9 October 2019

sprinkane en vlieë

sprinkane en vlieë gooi 
hulle skaduwee's 
oor die grasse

mag ek ook die primordiale 
stoot swem skarrel 
spring vlieg 
- al die onwillekeurige spasmas -
in vin en vlerk voel sidder
en my laat vonk tot in 
die wonderwoordloosheid 
van voortbestaan

Tuesday, 8 October 2019

ware sillabe

hoe gelukkig is ek om my saligheid
tussen die proteas, bye en voëls te kan kry
dankie dat ek in julle waaragtige teenwoordigheid kan wees
julle wat geen woord ken of weet
julle is ware sillabe
ritme en rym

wat skarrel ek hier oor my papier
hygend opsoek na 'n gedig
terwyl julle so eg, ongedeerd en onbewus
in die werklike Gedig leef?!

suikerbekkies, kwikstertjies, houtkappers,
tarentale, tinktinkies
oral op hulle eie fladderende manier 
aan die sing
aan die lewe!

Sunday, 6 October 2019

koesterende vrywing

met ‘n nuutgevonde vryheid
rol ek  hierdie letters 
een vir een 
uit oor die papier
voel dit vir my hand soos 'n ontdekkingstog -
hierdie syerige gly van
die inkpunt oor die papier
volg my oog, hand en oor
die griffel van die pen

daai koesterende vrywing
tussen pen en papier
die tekstuur van papier net grof genoeg
om die ink vas te byt
te glad, dan sal die letters afgly

gee my ‘n gedig met ‘n lewendige
en ongladde tekstuur
sodat die tregterende lense
van julle oë
in die verse kan vassteek

geen gladdebek-gedigte
vir my nie, seblief!

miskruier

ek sit in die phyl martin tuine in nature's valley
met proteas wat alom my toring

die beweging van 'n miskruier
trek my aandag
hy het pas 'n bolletjie ontkoppel 
van 'n nat hondedrol
hy rol dit na 'n klein streepskaduwee 
onder 'n grasspriet
daar kom sy rol tot stilstand

geen beweging uit sy lyf 

soos hy oor die misbol hang
hy is nou stil
geen avontuurlike wending 
gee hy hierdie gedig nie

ek sprei my serp uit 

en gaan lê langs hom 
prop my kop op
teen 'n nat stuk hout

ek sink diep in 
hierdie tydlose saligheid

dankie miskruier - 
jy laat my plat lê
in die fynbos-skadu's

Saturday, 5 October 2019

tussen pers vygies

ek sit op 'n skilferende creosote bankie in Nature's Valley
die goue gedenkplaatjie op die rugkant lees:
Die Muller familie - 4 geslagte

soos my tone oopsprei tussen die pers vygies

sing ek 'n sagte lied
ter herinnering aan die Mullers

my oog korrel na 'n by wat holomhoog 

in 'n bos stuifmeeldrade skrop en suig 
en krap en beur en stoot 

ek gaan af op my knieë

- ek self holomhoog - 
om die aksie van naderby te bekyk

hoe langer ek kyk 

hoe meer blomme en bye merk ek op
bye wat verwoed mekaar uit blomkele stoot

groot korrels geel stuifmeel 

klou taai
aan spartelende beentjies

instinktiewe verpligting

vreugde
oorlewingswaansin?

wat dryf die bye tot hierdie 

onophoudelike soeke, versameling, korwe bou 
en die magiese heuningalchemie?

Thursday, 3 October 2019

Rusalka en die Maan

Die waternimf Rusalka en die Maan
het ‘n geheime ontmoeting

die Maan kan deur die water skyn
en lig in haar hart straal

die Man maak haar verward en koorsig
die lig in sy oë kan nie haar waters penetreer
en tot in die hart van haar watersiel sien nie

los hom
los hom

sy swem vry met die Maan se tong
wat haar rugstring vol wakkerte lek

Tuesday, 1 October 2019

my gedigte se sê

ek besef dat my gedigte
iets anders sê as wat ek eintlik wil sê
hulle sê gereeld iets anders
draai in ander (dog soms verrassende) draaie in
maar nie in die draaie van my innigste sê-se-begeerte nie
ek gee voor in ander woorde as wat ek wil sê
ek voel meer kere soos 'n huigelaar
huigel ek kan dit doen en dit sê
maar eintlik is die diepste waarheid dalk dit: 
dat ek nie kan sê nie
ons almal skryf met die hoop om te sê
wat ons wil sê
maar die sê is so onvas
so wankelrig
so brokkelrig
so onbetroubaar
ek sê eerder niks

Friday, 27 September 2019

stywe krulle

ek staan voor jou
ek voel hoe die liefde jou ontwyk 

   die verlies is tasbaar

ek het afgeleer om my hande 
vas te klem in hierdie oomblikke

   die spyt moet iewers uitkruip

en so drup dit af na my voete
my tone  trek in stywe krulle op van die vloer

   ek voel hoe die trane opwel in my enkels

Thursday, 26 September 2019

hoe

hoe dig 'n mens vanuit die denklose plek
daar waar dit net suiwer spontane metafoor is 
wat roekeloos uit die keelgat lek
en in filigraan lettergrepe
stalaktities in oorbuise drup?

Tuesday, 24 September 2019

giet

jy giet ‘n okarina in 
die doodsuur van 
die nag 
sodat
jy teen sonsopkoms met 
al die suurstof in jou longe
die oggendsinjaal kan blaas

Monday, 23 September 2019

hier is ek

hier is ek

ek is hier

is ek hier?

hier ek is

is hier ek?

ek hier is

in verskeie volgordes 
maak ek seker van my ek
double-check my is
en verify my hier
maak dood seker!

nêrens anders as 
Hier 
Is 
Ek!

           Phyl Martin tuine, Nature's Valley

wipe

please pass me a serviette
i want to wipe these scuffling nouns
from my elliptical mouth

Sunday, 22 September 2019

gaap

hoe lekker is dit as ek so diep en so lank gaap
dit voel asof my hele nek en keelgat
binnenste buite toe peul
my kakebeen rek op haar uiterste
daai golf van suurstof wat deur my spoel
speel beeldhouer in my binnenste
en hervorm my tot vreugdeling
van die slaapryk

gooi my in die diepste put 
van hierdie salige sluimer

met my volgende gaap 
is my mond nie meer mond nie
maar intrapplek vir 
die voete 
van 
die heelal 

Saturday, 21 September 2019

kniel

ek haal my bril af
gaan op my knieë op die gras
buk oor die papier
son op my regter wang
skadu oor die woorde
wil ek hierdie gedig skryf
asof dit die heel eerste gedig
in my lewe is
vergeet van gewoontes
- aangeleer of nie -
vergeet orde spelling sinmaak rym ritme
vergeet alles wat ek voorheen geskryf het
hier is die heel eerste gedig wat ek skryf
proe die penpunt vir die heel eerste keer
die vreemde smaak van die gedig
my hand huiwer-huiwer
die skadu bly stil-stil oor die papier skuif
soos 'n onsigbare kombers val die son op my wang
ek kniel in hierdie oomblik
supplikeer myself voor die digterspapier
skep 'n ritueel
die sweet begin opdam in die waai van my knielende knieë
my nek bly my herinner aan haar stramheid
die gras waarop ek druk bly groei
die halms druk hulle patrone op
die vel van my kuite en elmboë
mag ek gemerk word
deur hierdie knielende oomblik

Friday, 20 September 2019

Boomkerk

      Eikeboom in die tuin van die Moederkerk, Stellenbosch

ek sit hier by my Boomkerk
die lig wat deur die nuutoopgevoude blare breek
is die geruite vensters waardeur die goddelikheid straal
die knewel van 'n boomstam is 
God se bobeen wat sonder swik of swig 
sy goddelike staan staan
die juigende takke is die kerkbankies waarop 
die voëls lofliedere tot die hemele sing
die wortels is die geloof wat in 
onsigbaarheid die goddelikheid vasanker

o Boomgod, jou asem blaas die wêreld aan die lewe
jou groen mantel pomp kleur in ons anemiese siele
jou takke-prag ken geen argitektoniese perke
jy is milddadig in jou genade
en verrykend in 
jou standvastige omarming

o Boomgod, al wat ek jou vra is:
wees my genadig 
in die tye van my ongenade

Friday, 13 September 2019

trek los

   vir die Helenvale Poets

'n karnaval van skaduwees, 
blou lug, digters 
en taxi's pols al om my 
in 'n optog van uitbundigheid

asblikke, dennebome, 
diefwering en woorde
trek los van hulle gewoontes
en kom dans in my kop

ek word verblind deur my potlood wat
vooruit hardloop laat die graniet-stof so spat!

Monday, 9 September 2019

vrede

vrede is die sagte lippe-vee van die V
die salige rol van die R wat die tong sus tot
in die sweem-see van die E
en dan die sagte dowwe tong-plof van die D
laat alles daal na die on-opstairse E
wat die vredesdeur 
saggies oopknip

mag vrede in alle monde lê

Sunday, 1 September 2019

Blue Sky

Sky, it was the strangest thing today to see you blue and bright
your glaring colour almost made me faint with fright!
after a lot of blinking and some careful investigation
i determined that this wasn't some fanciful hallucination

good heavens, thank you for Blue Skies today!
for weeks now we thought you'd run away
i grabbed my camera and snapped this rare beast
i had to have some evidence at least!

there were times through these sunless days
that we were rehearsing eulogies in the most tearful ways
we were convinced you'd been gobbled up by clouds and mist
or had joined the endangered species list!

come, Blue Sky, please do stay for a while and more
all this wet and dark cloud is depressing me to the core
for crying out loud, i want to frolic outside dry, wild and free
and dammit, i crave a good solid tan and my fair share of Vitamin D

Sunday, 18 August 2019

mango

die gedagte aan jou is
'n mango
wat so soet en
veselrig
in
my
keel
af
sak
dat selfs die slukpyp van my siel
smaakkliere groei om
niks van
jou smaaklikheid
te mis
soos
wat 
jy 
dieper
in
my 
afgly

Friday, 16 August 2019

graça

                       in memory of Norman Morrissey

your bedside lamp
made sommer with an empty
graça-bottle - 
the etiquette still in tact

my eyes linger on the subtitle
casa de ouro
house of gold

yes! i shout
gold is this house
which flows with
music and poetry
tea and honey

(mumbling aside: one day i'll unscrew

the bottle-stand,
fill 'er up with
your favourite drink,
screw it fast again
and flick the switch!
the heat will suffuse your bedroom
with intoxicated light
you'll get graciously drunk
without having a single sip!)

Wednesday, 14 August 2019

naaldekoker

die naaldekoker
kook kook
die lug vol
met trillende naalde
tril tril
die kwinkelerende vlerke
kwistig in 
die kwiksilwer-vlug
van sy lyf

Saturday, 3 August 2019

sonder

photographer: Dani Debellis


sonder


water,

wat is die wêreld

sonder

jou genadelose genade?


without


water,

what will the world be

without

your merciless mercy?


Saturday, 20 July 2019

Digtersgebed

     na aansporing van Julia Cameron en haar Artist's Way

O Heerser in die Poëtiese Hemele - 
Mag jou Digterlike Reën 
vollop en met oorgawe oor my hoof val
Ek bid vir metaforiese spierkrag wat 
my woorde ver verby die horisonne sal laat hardloop

Ek bid vir genade in die tye
wat ek my mees genadelose kritikus is
Mag ek leer om my kuns elke dag te verbeter
Mag ek my vaardigheid ontwikkel en ontplooi tot
gloeiende vlakke van Wow-dom

Ek bid vir skerpsinnigheid:
'n sterk sin vir "less is more" 
en groot asseblief, 'n humorsin wat 
my digkuns onweerstaanbaar sal maak

Ek bid ook vir al die ander 
minder en meer talentvolles
Mag ons almal skyn en geen afguns of 
jaloesie vir mekaar koester
Net liefde en aanmoediging tussen 
ons kunstenaarsfamilie

Ek vra dit in Poëtika se naam

Amen

Sunday, 14 July 2019

water mymering

photographer: Dani Debellis

Stroom waarin die donker
net die donker sien
met jou kan ek praat
ek ken jou beter.

- Ingrid Jonker (uittreksel uit gedig Donker stroom)

ek het vir te lank te diep gedink
dat die dieptes gatvol vir my geraak het
en my vlakkant toe gestoot het

nou mis ek daai dieptes:
daai verkolking van die self
in die liglose vakuum

hoe tragies!
ek is besig om te verdrink
hier in die vlakke waters

asseblief dieptes, kom haal my!
my lyf kan die inperking van
hierdie oppervlakkigheid
nie meer verduur

o dieptes, jy is oper
wilder
en
vryer


water pondering

Stroom waarin die donker
net die donker sien
met jou kan ek praat
ek ken jou beter.

- Ingrid Jonker (extract from the poem Donker stroom)

for too long i have thought too deeply
that the depths have become annoyed with me
and pushed me to the shallow end

now i miss those depths so much:
that vortex of the self
in the lightless vacuum

the tragedy!
i am busy drowning
here in the shallow waters

please depths, come fetch me!
my body can not stand
the confinement of
the shallowness

oh depths, you are more open
wilder
and
freer

Sunday, 7 July 2019

soen-net

my pen word gevang deur die soen-net                                
veertien lyne geweef en gerym met feestelike pret            
drie kwatryne om jou toe te spin met soene                        
kom trick or treat, dit is beter as halloween se pampoene  

met honderd-vier-en-dertig soene wil hierdie soen-net jou troetel   
ontspan en hou op om aan jou bo-lip te vroetel                   
maak toe jou oë en sink in die beswyming                           
jou lippe sal begin tril met die beryming                              

gee jouself oor aan die soen-net se verleidingspel               
die hoendervleis gaan dartel al langs jou tong en vel          
drink diep uit elke soen se digterlike fontein                        
en so sal ‘n geluksaligheid in jou oorsoende kieste verskyn 

nou is dit net die koeplet wat oor is om jou koebaai te kus  
met haar twee rymende lippies sal sy jou nou aan die soete slaap sus       

Friday, 5 July 2019

gee die waternimfe hulle swemplek

photographer: Dani Debellis
         
    vir Billy

hou die poele dop
en jy sal jou begeertes in die
water-arsenaal vind
en binnekort op die water loop

die waterdraers is die uitverkorenes
om deur die donker stroom te vaar
en diep dieper
diepste waters oop te kerf

jy dink dit is net waterrympies
wat soos olie op die water lê
as jy mooi kyk sal jy vlammende voorspellings
in die stille golwe se opwellinge sien

dit is sillabes wat die waterweë
met kwartsiet uitspel
moet nie jou ledemate se gehegtheid
aan die warmwaterbron verkwalik nie

elkeen van ons het ‘n diepe waterbehoefte
wat nie met leë waterbeloftes verwar moet word nie
los die waterpolitiek op die agterstoep
die kinkels gaan nie my pype indring nie

laat ons die kuns van
die ongekunstelde waterminnaars leer
en gee die waternimfe hulle swemplek
hulle sal die immer migrasie van water laat voortblom