Tuesday 13 April 2021

ek klop aan die deur van die gedig

ek klop aan die deur van die gedig
    laat my binne! laat my binne!
    
                wie's daar 
             vra die gedig

    dis ek, Lara

                Lara wie?

    Lara wie deur die poorte van die gedig wil loop
    en haar tong streel teen die pilare van metaforiese insigte

                jy kan slegs inkom as jy jou harstbegeerte bewoord
            dring die gedig aan

 ek antwoord sonder huiwer
    my hart begeer 'n ineensmelting van tong en woord    
    waar vlees en letter onlosmaaklik verweef word
    en die een nie van die ander onderskei kan word nie
    ooo ek begeer dat die abstrakte en die vleeslike 
    een word in die polserende aanraking

            die gedig wonder hardop
                uhmmm, ek hou van jou hoopvolheid
                ek is dikwels so verlate en uitgelewer aan 
                die wêreld se toe oë en harde hande
                as jou tong warm lêplek vir my kan bied
                sluit ek nou die slotte oop
                en sing jou welkom

No comments:

Post a Comment