ek haal diep asem
elke suurstofsel blom soos bloedrooirose deur my are
ek staan op die drumpel om in 'n juigende woud te ontaard
hoe kan een mens se hart en ledemate
soveel blye spronge oor die sandvlaktes gee?
ek sluk die sceletium en word boesman op sekure jag
ek verfyn die swier van my senuwees
verleng my spronge met 'n veerkragtigheid
ek wil net die taal van die natuur kan praat
geen slinkse woord wat dik verweef is met dubbelsinnigheid
tog begeer ek om toor arabesques
van blom, gras, skulp,
klip, visskool en springboksprong te vers-spieël
mag ek my sillabes in die stil hart van 'n klip vergiet
as ek maar net een enkele gedig kan skryf
wat soos een magiese oseaan golf
verruklik terug die see intrek en
die verbeeldingsryke sand en spore sluk sy wondermaag in
juig in skuimende wit golwe wat tango oor seewier, klip en walvis
kom Gedig
kom Oseaan
sluk my heel in!
No comments:
Post a Comment