Saturday 7 May 2022

ek is uitgetiep oor die afgrond van jou verbeelding

om te weet die oë van jou het op die woorde van my geval
maak elke gewrig in my sintaksis ontkoppel

ek is uitgetiep oor die afgrond van jou verbeelding - die ekstase!
die hart wil nie bedaar

ek staan kaler as kaal voor jou
en dis nie skaam en wegkyk
maar diep in jou onbegrensde oë inpyl

ek sien
jou
raak

en die sien
raak
jou

met ons siele bou ons metafore waaroor ons na mekaar se digte takke klim

jy is 'n gety wat deur my pols
en die slapende wildheid in my wakker maak

god dank vir aanraking
en
invloed!

my tong het reggemaak vir 'n forever stilte
en toe kom jy

en ons weet goed
aangeraakte organe staan
penorent

en skielik maak
oorlewing weer
sin

ek wil in alle naaktheid voor jou staan
niks anders sal sinmaak

No comments:

Post a Comment