ek
luister na hallelujah
soos
gesing deur jeff buckley
en
my regter voetsool gloei asof daar ‘n vuur naby flikker
my
hartspier huil trane dikker as bloed
ek
kou die potlood met ‘n melankolie in
hierdie vrydagmiddag oktober hitte
die
wit gordyne beweeg so lig
soos
eens die plooie van my ouma
ek
vang hier ‘n oomblik van rus in die tornado van die dag
met
ritte op taxis busse en treine
tussen
my ouerhuis in turffontein en my alma mater in pretoria
borduur
ek herinneringe op ‘n enkele warm spoor
ek
kan nie help dat die nat van my trane selfs in my ore gaan sit
ek
wikkel my pinkie in my oorholte
herrangskik
die was tussen die trane
om
plek te maak vir die oorfone
want
hierdie hallelujah wil ek nie vertroebel
ek
dink terug aan die laaste 24 uur se emosies
en
ek word skielik opgewonde toe ek onthou ek het
anne
sexton se volledige gedigte gistraand gekoop by
protea
boekwinkel in burnett straat
ek
het paar gedigte kon lees op die trein terug jozi toe
en
die vrede van die warboel emosies
het
kom stil sit in my oë wat anne se sinne verorber
aai
om gedigte te lees is soos bid of mediteer
al
is die kop aan’t raas en die hart seer
het
gedigte ‘n manier om my aarde toe te bring
en
lig om my tempels te laat kring
No comments:
Post a Comment