Tuesday, 6 October 2015

my verse raak hoog op suurstof

een versreël is gelyk aan een inasem
ek wonder hoe die ekstra diep asem my sinne beinvloed
puur en suiwerder
of net oombliklik meer hoog op suurstof?
ek lag in my longe
hierdie diep asemteue
laat elke lyn so lewen-dig voel
geen tyd vir tob of wonder of karring nie
slegs uit die kop en hart skryf
sonder huiwer
sonder stop

sal meer suurstof my ‘n beter digter maak?
is hierdie gedagte maar net ‘n vlug van ydelheid?
alweer hoor ek my longe roggel van die lag
meer as my kop doen die pen die werk
hy moet byhou met hierdie griffel

in een asem kan ‘n mens net soveel skryf
vloei vloei vloei die lyne uit
golwend begin die kop en longe saamwerk
so harmonieus
dit is soos improviseer
net een kans vir een lyn
goeie oefening soos cardio vir die kop

probeer jy self een lyn te skryf op een asem
nè, nie so maklik!
die asem wag vir niemand nie
hou nie vas aan ’n idee nie
soos die maan nie uitstel sloer of talm
maar net aanhou die getye om die aarde stoot
so sal ek met die ryke voorraad van suurstof
my gedigte deur ore en harte ryg

No comments:

Post a Comment