Saturday 24 October 2015

onbeskaamd

met my rug ingevou in die hoek van die rusbank
en bene wawyd oopgestrek
voel ek ongereserveerd en sorgloos 
ek kan nie help om myself te verbeel
binne die swellende lyf van ‘n verwagtende vrou

die hitte is net-net draaglik
ek gee nie om wie my hier sal teëkom in
hierdie onvleiende posisie
ek sit met ‘n self-vertroue gemak
ek het net my wit romp aan
geen hemp
my hande gemaksugtig langs my sye
en my borste doodluiters turend tot
in die uithoeke van die studio

dit is ‘n bemagtigende gevoel 
hierdie vrymoedigheid van lyf op ‘n somersdag
‘n non-chalante bewussyn van my vrou-wees
sonder om myself te verklaar verduidelik of bewys
my vel en been kan nie anders as om te ululeer 
in hulle onbeskaamde aanwesigheid

No comments:

Post a Comment