Monday 8 November 2021

wens-fontein

twee verwaarloosde seuntjies lê plat op hulle mae
op die rand van die walvisstertfontein
in die ou hawe van hermanus
hulle arms lank uitgestrek na 
die bodem van die fontein
hulle wange trek skeef soos wat hulle
tuur en mik met gretige vingers na die paar 
sente wat daar onder lê
ek loop nader 
nuuskierig om te sien hoe baie hulle al uitgedelf het
ek sien net klomp brons munte
geen pakkie skyfies of peanuts kan mens daarmee koop
ek trek 'n R20 noot uit my beursie en gee dit vir hulle
hulle vat dit vol beloftes dat hulle dit tussen hulle sal deel
nie lank daarna gaan lê hulle weer plat op hulle mae
en duik die armpies deur die water
ah, 'n kind se wilskrag en toewyding as dit uit hulle eie lus kom!
hulle lyk so gelukkig daar met klere half-nat langs die fontein
die son vang die water en hulle tande
weerkaats die wense van al die honger harte die lug in

No comments:

Post a Comment